Acsion opgewonde oor Ciprus

POSTED: Monday, 5th June 2017


Acsion is vol vertroue dat hy sy suksesresep as eiendoms-bestuurder en -ontwikkelaar in Suid-Afrika in Ciprus en elders in Europa sal kan dupliseer.

Kiriakos Anastasiadis, uitvoerende hoof, en sy finansiële hoof, Pieter Scholtz, is veral opgewonde oor die verwagte opbrengs van Metropolis Mall@Larnaka, Acsion se eerste internasionale kleinhandelontwikkeling in Lanarka, Ciprus – ’n opbrengs wat hulle reken minstens aan hul bestaande beleggingskriteria sal voldoen.

Volgens Scholtz ken Anastasiadis as boorling dié eiland met sy rofweg 1 miljoen inwoners en 4 miljoen jaarlikse besoekers, en glo hulle Acsion se Suid-Afrikaanse bloudruk sal goed daar werk.

Ciprus kan ook die afspringplek vir verdere uitbreidings in Europa wees, glo hulle.

Finale goedkeuring vir die Metropolis Mall met sy 40 000 m²-oppervlakte behoort teen einde 2017 verkry te word.

Dit sal by voltooiing einde 2019 tussen 20% en 25% van Acsion se batewaarde uitmaak.

Acsion het Maandag met die bekendmaking van sy stewige vertoning in die boekjaar tot 28 Februarie gesê die inkomste uit twee nuwe kleinhandelsentrums, huurverhogings van gemiddeld 7,7% en kostebesparing danksy die installering van sonkragstelsels, het onder meer daartoe bygedra.

Sy netto batewaarde per aandeel, uitgestelde belasting uitgesluit, het met 19% gegroei tot R16,20.

Sy wins het met 42,6% tot R812,3 miljoen gestyg en sy wesensverdienste per aandeel was 47c teenoor 45,90c die vorige jaar.

Sy stewige finansiële posisie het Acsion se direksie oortuig om ’n dividend van 12,5c per aandeel te oorweeg.

“Hoewel dit nie Acsion se beleid is om dividende te verklaar nie . . . is dié besluit geneem in ag genome die maatskappy se sterk finansiële posisie met ’n skuldverhouding van net 4,92% en toegang tot ’n skuldgerief van R1 miljard om vir ontwikkelings te betaal,” sê Scholtz.

Dit sal waarskynlik goedgekeur word en einde Junie, middel Julie betaal word.

Die dividend is nie in sy 2017-resultate verreken nie en sal die skuldverhouding effens verhoog indien dit uitbetaal word.

Hoogtepunte van Acsion se boekjaar:
* Twee kleinhandelontwikkelings, Mall@Moutsiya en Mall@Mfula, is in die boekjaar voltooi.

Mall@Mfula in Piet Retief, Mpumalanga, met ’n vloeroppervlakte van 8 700 m², het einde November geopen. Altesame 70% van die vloerruimte word deur nasionale kleinhandelhuurders beset. Mall@Moutsiya, wat 14 500 m² beslaan, het in Augustus verlede jaar in Siyabuswa in Mpumalanga geopen.

Bouwerk aan Acsiopolis, Acsion se vlagskipontwikkeling van 20 verdiepings in Benmore, Sandton, vorder volgens plan en sal vroeg in 2019 voltooi wees. Einde Februarie was vyf parkeervlakke reeds voltooi en het die bouwerk bogronds reeds begin.

* Gemiddelde huurverhogings van 7,7%.

* Bedryfskoste is met 2,6% verlaag tot R205 miljoen (R211 miljoen in die vorige boekjaar) ondanks die bykomende sentrums – hoofsaaklik danksy die installasie van sonkragstelsels by Mall@Reds and Mall@Carnival, wat aansienlik laer elektrisiteitskoste meegebring het.

* Groepinkomste styg met 16% tot R524,8 miljoen;

* Die waarde van die ontwikkelde beleggingsportefeulje styg met 26,6% tot R5,1 miljard.

Acsion se agt hoofsaaklik kleinhandeleiendomme waaruit hy sy inkomste verdien, is einde Februarie op R5,1 miljard gewaardeer, 26,6% hoër as in die vorige boekjaar.

“Acsion se kundigheid in ontwikkeling en waardeontsluiting maak dit vir hom moontlik om bogemiddelde netto batewaardegroei te behaal en ons is vol vertroue dat dit (weer) bewerkstellig kan word ondanks die uitdagende ekonomiese en bedryfsomgewing,” sê Anastasiadis.
Source: Netwerk24
Web site: http://www.netwerk24.com/Sake/Eiendomme/acsion-opgewonde-oor-ciprus-20170529#
Back