Acsion wil dividend betaal na wins styg

POSTED: Saturday, 1st July 2017


Inkomste uit twee nuwe kleinhandelsentrums, huurverhogings van gemiddeld 7,7% en kostebesparing danksy die installering van sonkragstelsels, het onder meer bygedra tot ’n stewige vertoning in die boekjaar geëindig 28 Februarie deur die eiendomsbestuurder en -ontwikkelaar Acsion.

Sy netto batewaarde per aandeel, uitgestelde belasting uitgesluit, het met 19% gegroei tot R16,20

Sy wins het met 42,6% tot R812,3 miljoen gestyg en sy wesensverdienste per aandeel was 47c teenoor 45,90c die vorige jaar

Sy stewige finansiële posisie het Acsion se direksie oortuig om ’n dividend van 12,5c per aandeel te oorweeg.

“Hoewel dit nie Acsion se beleid is om dividende te verklaar nie . . . is dié besluit geneem in ag genome die maatskappy se sterk finansiële posisie met ’n skuldverhouding van net 4,92% en toegang tot ’n skuldgerief van R1 miljard om vir ontwikkelings te betaal,” sê Pieter Scholtz, Acsion se finansiële hoof.

Hoogtepunte van Acsion se boekjaar
Gemiddelde huurverhogings van 7,7%.
Bedryfskoste is met 2,6% verlaag tot R205 miljoen (R211 miljoen in die vorige boekjaar) ondanks die bykomende sentrums – hoofsaaklik danksy die installasie van sonkragstelsels by Mall@Reds and Mall@Carnival, wat aansienlik laer elektrisiteitskoste meegebring het.

Groepinkomste styg met 16% tot R524,8 miljoen;
Die waarde van die ontwikkelde beleggingsportefeulje styg met 26,6% tot R5,1 miljard.
Die dividend is nie in sy 2017-resultate verreken nie en sal die skuldverhouding effens verhoog indien dit uitbetaal word.

Twee kleinhandelontwikkelings, Mall@Moutsiya en Mall@Mfula, is in die boekjaar voltooi.

Mall@Mfula in Piet Retief, Mpumalanga, met ’n vloeroppervlakte van 8 700 m², het einde November geopen. Altesame 70% van die vloerruimte word deur nasionale kleinhandelhuurders beset.

Mall@Moutsiya, wat 14 500 m² beslaan, het in Augustus verlede jaar in Siyabuswa in Mpumalanga geopen.

Bouwerk aan Acsiopolis, Acsion se vlagskipontwikkeling van 20 verdiepings in Benmore, Sandton, vorder volgens plan en sal vroeg in 2019 voltooi wees. Einde Februarie was vyf parkeervlakke reeds voltooi en het die bouwerk bogronds reeds begin.

Acsion se agt hoofsaaklik kleinhandeleiendomme waaruit hy sy inkomste verdien, is einde Februarie op R5,1 miljard gewaardeer, 26,6% hoër op ’n jaargrondslag.

“Acsion se kundigheid met ontwikkeling en waardeontsluiting maak dit vir hom moontlik om bogemiddelde netto batewaardegroei te behaal en ons is vol vertroue dat dit (weer) bewerkstellig kan word ondanks die uitdagende ekonomiese en bedryfsomgewing,” sê Kiriakos Anastasiadis, Acsion se uitvoerende hoof.
Source: Netwerk24
Web site: http://www.netwerk24.com/Sake/Eiendomme/acsion-wil-dividend-betaal-na-wins-styg-20170529
Back